|
The Breed ► BEESVLEISKLASSIFIKASIE
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Waar
pas die Afrikaner in?
INLEIDING
Die
doel van enige vleisproduksiestelsel is die winsgewende
produksie van rooivleis vir die verbruikersmark. Die realisering
van ekonomiese verskille betreffende die karkaswaarde van
verskillende karkasse het reeds tot groot veranderinge in die
vleisindustrie gelei. Dit is duidelik dat die karkasse wat aan
die verwagte kwaliteitstandaarde voldoen en die mees gesogte
snitte met die minste vet lewer, uiters belangrik is.
Die
karkas staan sentraal tot al bogenoemde vereistes.
Karkaskwaliteit is die primêre maatstaf van produksie en is ’n
bepalende seleksiekriterium. Dit is die fokus van beide die
handelaar en nuwe bemarkingspogings deur produsente. Die karkas
voorsien ’n maklik-definieerbare punt waarmee omsetting van die
dier na vleis gemeet kan word.
Die
vraag wat jy as Afrikaner-beesvleisprodusent jouself moet afvra,
is: “Waar pas die Afrikaner in die beesvleisklassifikasiestelsel
in?”
Dit
is nodig om eerstens die verskil tussen klassifikasie en
gradering te verduidelik, aangesien die
beesvleisgraderingstelsel op 1 Julie 1992 na ’n
beesvleisklassifikasiestelsel verander is.
DIE VERSKIL TUSSEN
KLASSIFIKASIE EN GRADERING
Die
vraag ontstaan: “Waarom behoort daar ’n klassifikasiestelsel te
wees?” Klassifikasiestelsels voorsien ’n verstaanbare taal wat
jou in staat stel om tussen belangrike eienskappe van
karkaskwaliteit te onderskei. Vergoeding aan die produsent en
die bemarking van vleis aan verbruikers benodig ’n effektiewe
klassifikasiestelsel. Ten einde effektief te wees, is dit van
die uiterste belang dat so ’n sisteem onbevooroordeeld,
verstaanbaar en betroubaar moontlik is. Dit moet konsekwent
toegepas word en faktore gebruik wat sterk korreleer met die
werklike waarde van die karkas op die mark. Gevolglik sal
produsente wat karkasse met die wenslike kwaliteit voorsien, die
nodige vergoeding ontvang. Diegene wat nie hierin slaag nie, sal
die geleentheid gegun word om hulle produksiemetodes te wysig.
Die
klassifikasie van ’n karkas kan gedefinieer word as “om karkasse
onbevooroordeeld in kwantifiseerbare terme te beskryf sonder om
ekonomiese waardes aan die verskillende klasse toe te ken.”
Gradering, aan die ander kant, is “die toekenning van ’n
waardeklas aan karkasse op grond van vooropgestelde idees met
verwysing na kwaliteit.” Dit is waarom die evaluasie van
karkasse belangrik is gedurende alle fases van die
bemarkingsketting, van die plaas na die kleinhandelsentrum.
REDES VIR DIE VERANDERING NA 'N KLASSIFIKASIESTELSEL
-
Bemarkingsopinievraelyste het aangedui dat verbruikers
eenvoudige graderingsaanwysings vir rooivleis verlang. Die
huidige graderingstelsel bevat te veel graadname en belemmer
die kommunikasieproses.
-
Die
grootste rooivleisverbruiker (dit neem steeds toe) is die
swart verbruiker. As hulle behoeftes bevredig wil word, moet
’n eenvoudiger stelsel gebruik word.
-
Gesprekke met ’n aantal produsentgroepe het uitgewys dat die
huidige stelsel van graadname te kompleks is.
-
Die
verbruiker is in staat om die vetpersentasie van vleis te
identifiseer en om ’n keuse uit te oefen volgens sy behoeftes.
Dit is waarom ’n voorskrywende graderingstelsel onwenslik is.
-
Kwaliteit, in hierdie geval die aanduiding van sagtheid, is
nie ’n waarneembare kenmerk en die enigste kenmerk wat
gekommunikeer moet word nie.
-
Dit
is gedemonstreer dat verbruikers weens ’n aantal redes nie
graadname tydens die koopproses gebruik nie. Een van die
belangrikste redes is die onverstaanbaarheid van die
graderingstelsel.
-
Suid-Afrika was een van die min lande in die wêreld wat gepoog
het om ’n graderingstelsel aan die verbruiker te verkoop.
DOELWITTE VAN 'N KLASSIFIKASIESTELSEL
Die
primêre doelwit van ’n klassifikasiestelsel is om ’n heterogene
produk op grond van kwaliteit in meer homogene kategorieë te
verdeel, sodat –
-
die
prys van klas en gewig teen bemarkingstyd gekoppel kan word;
en
-
die
produsent
-
’n
meganisme besit waarvolgens die meriete (klas en gewig) van sy
produk na hom oorgedra kan word (informatiewe funksie);
-
deur die owerheid aangemoedig kan word om sekere produkte te
lewer wanneer en as dit in die belang van die industrie is
(langtermynproduksiebeplanning);
-
’n
aanduiding van die spesifieke produk het wat hy moet produseer
volgens verbruikervoorkeur (korttermynproduksiebeplanning); en
-
opleiding kan geniet met verwysing na die kwaliteit en massa
van sy produk (opleidingsfunksie).
-
Die
kwaliteit wat die verbruiker verlang, word op ’n ordelike wyse
aan hom voorsien; dus moet ’n klassifikasiestelsel duidelik die
verskillende kategorieë van kwaliteit aandui.
-
Verspreiding moet volgens aanvraag gefasiliteer word.
-
’n
Statistiese analise vanuit ’n nasionale oogpunt, met verwysing
na vordering in die produksie-area en -verbruik, moet moontlik
gemaak word.
HOE LYK DIE
KLASSIFIKASIESTELSEL?
Die
enkele groot verandering van die klassifikasiestelsel is die
verskil in graadname en klassifikasie:
|
Klas |
Ouderdom
|
Sagtheid |
Kleur van
merkerpen |
|
A |
Jonk |
Sag |
Blou |
|
B |
Volwassene |
Minder sag |
Groen |
|
C |
Oud |
Minste sag |
Rooi |
Die
verbruiker kan die hoeveelheid vet visueel evalueer en sy
transaksie daarvolgens doen. Ouderdom kan nie deur die
verbruiker waargeneem word nie; dus moet dit gekommunikeer word.
Die
evaluasie van karkasse volgens vet (6 klasse), bou (5 klasse),
skade (3 klasse) en geslag (bulle) bly dieselfde binne elke
ouderdomsgroep en sal voortdurend ’n rol in die prysbepaling
speel vir beide die vleishandelaar en die rooivleisprodusent.
DIE AANVRAAG EN BEHOEFTES VAN DIE ROOIVLEISVERBRUIKER MET
VERWYSING NA BEESVLEIS
Voordat bepaal kan word waar die Afrikaner in die
klassifikasiestelsel inpas, is dit eerstens nodig om te bepaal
wat die verbruiker te sê het oor jou produk en/of die
klassifikasiestelsel waarmee jou produk geëvalueer is om die
behoeftes van die verbruiker te bevredig.
Die
aanvraag en behoeftes van die verbruiker met verwysing na vleis
is dat ’n konsekwente lewering van goeie kwaliteit vleis teen ’n
redelike prys beskikbaar behoort te wees. Hierteenoor het
verbruikers verskeie verwagtinge oor die produk, waarvan hulle
eie konsep van “waarde” die belangrikste kriterium is.
Laasgenoemde verwys na die kwantiteit en kwaliteit van die
produk irrelevant tot ander voedselsoorte en verbruiksware. Die
verbruiker vereis ’n gedifferensieerde prys in hierdie
“waardepakket” wat deur ’n aantreklike inligtings- en
bemarkingsdiens beskikbaar gemaak word.
Volgens bemarkingsvraelyste het verbruikers aangedui dat die
prys per kilogram (51% van respondente) die belangrikste faktor
in hulle koopproses is. Persentasies van onderskeidelik 39% en
30% het aangedui dat die hoeveelheid vet en die kwaliteit van
die vleis ’n belangrike rol in hulle koopproses speel. Gradering
speel ’n onbeduidende rol in die koopprys.
FAKTORE WAT ’N ROL GEDURENDE DIE
KOOPPROSES SPEEL:
|
Belangrike
faktore |
% respondente |
|
Prys per
kg/waarde vir geld/redelike prys |
51 |
|
Kleur van
vleis/moet goed/vars lyk |
43 |
|
Maer
snitte/minder vet |
39 |
|
Sagte vleis |
30 |
|
Kwaliteit van
vleis/goeie kwaliteit |
30 |
|
Gradering van
vleis |
14 |
|
Verpakking –
netjies/skoon |
10 |
Dit
is duidelik dat die toename in gesondheidsbewustheid onder
rooivleisverbruikers ’n bepaalde rol in hulle kooppatroon gaan
speel. Dit is duidelik waarneembaar in Tabel 2, met verwysing na
die voorkeure van verbruikers en die hoeveelheid vet in
beesvleissnitte. In 1970 het 30% van die wit verbruikers
aangetoon dat hulle ten minste 6 mm vet in hulle beesvleissnit
verkies – ’n duidelike geneigdheid tot maerder beesvleissnitte.
Die Kleurling- en Asiatiese bevolkingsgroepe het ook
laasgenoemde persepsie gedeel. Hierteenoor skyn die swart
verbruiker uiteenlopende menings te deel oor die hoeveelheid vet
wat hulle in hulle beesvleissnitte verkies.
TABEL 2 – VOORKEURE RAKENDE DIE DIKTE VAN
VET IN BEESVLEISSNITTE
|
Vet |
Witmense |
Kleurlinge |
Asiate |
Swartmense |
|
|
1970 |
1987 |
1987 |
1987 |
1987 |
|
3 mm |
31 |
43 |
61 |
23 |
36 |
|
6 mm |
39 |
33 |
23 |
13 |
29 |
|
12 mm |
16 |
14 |
7 |
2 |
15 |
|
14 mm |
12 |
9 |
8 |
4 |
20 |
|
Geen |
2 |
1 |
1 |
37 |
- |
|
Weet nie |
1 |
- |
- |
- |
- |
Die
persepsie van verbruikers dat beesvleis te vetterig is, het ’n
toename van onderskeidelik 8% en 11% getoon wat betref wit en
anderskleurige rooivleisverbruikers (Tabel 3). Dit beklemtoon
die feit dat daar ’n bepaalde geneigdheid tot maerder vleis
bestaan.
TABEL 3 – DIE PERSEPSIE VAN DIE VERBRUIKER
DAT VLEIS TE VETTERIG IS
|
|
Witmense |
Anderskleuriges |
|
|
1987 |
1990 |
1987 |
1990 |
|
Vark |
52 |
57 |
65 |
73 |
|
Skaapvleis |
24 |
32 |
28 |
28 |
|
Beesvleis |
5 |
13 |
8 |
19 |
|
Hoender |
3 |
5 |
6 |
7 |
|
Vis |
1 |
1 |
1 |
2 |
Markpryse dui ook aan dat daar slegs ’n geringe verskil in prys
tussen vetkode 2 (A1) en vetkode 3 en 4 (SA) bestaan, alhoewel
daar ’n aantal ander faktore bestaan wat ook ’n rol in die
bepaling van markpryse speel.
Verbruikers het duidelik aangedui wat hulle behoeftes rakende ’n
karkasklassifikasiestelsel is, byvoorbeeld, dit moet eenvoudig
wees en daar moet ’n aanduiding van sagtheid en vetterigheid
wees (Tabel 4).
In
die geval van die verkoopbare vleisopbrengs (vetterigheid) in ’n
klassifikasiestelsel blyk dit dat verbruikers die klem plaas op
eetbaarheid (sagtheid van vleis) en die gedissekteerde waarde
van ’n karkas.
TABEL 4 – DIE IDEALE KLASSIFIKASIESTELSEL
Eenvoudig 44%
Aanduiding van sagtheid 31%
Aanduiding van vetterigheid 20%
Vervolgens moet die Afrikaner geëvalueer word in terme van wat
dit die rooivleisverbruiker bied ten opsigte van die verkoopbare
vleisopbrengs van die karkasse en die sagtheid van vleis en hoe
laasgenoemde eienskappe voldoende meriete met die implementering
van die klassifikasiestelsel sal ontvang.
KARKASEIENSKAPPE VAN DIE AFRIKANER IN 'N KLASSIFIKASIESTELSEL
Die
belangrikste karkaskwaliteit vir die produsent is karkasmassa
(aangesien dit grootliks die inkomste per dier bepaal),
vetterigheid en ouderdom (aangesien laasgenoemde faktore ’n
groter invloed op die prys/kg uitoefen). Gesamentlik bepaal
hierdie faktore die finale inkomste.
De
Bruyn (1991) het omvattende navorsing op ’n verskeidenheid
opreggeteelde en kruisgeteelde tipes uitgevoer met die doel om
karkas- en vleiskwaliteiteienskappe te evalueer.
Die
klassifikasiestelsel plaas spesiale klem op die vergelyking van
karkasse met dieselfde graad van vetterigheid. Vervolgens word
die groot variasie tussen verskillende rasse en volgroeide tipes
met verwysing na karkaskwaliteite uitgeskakel.
Die
invloed van ras op slagpersentasie word in Figuur 2
geïllustreer. Dit is duidelik vanuit bogenoemde figuur dat die
slagpersentasie taamlik onveranderd teen ’n konstante vetkode
is.
Uitsonderings kom voor, soos in die geval van die Charolais,
waar dubbelbespiering ’n invloed op die slagpersentasie
uitoefen. Melkrasse het normaalweg ’n swakker
spier-tot-been-ratio (Naudé, 1974) en die Brahmaan wat geneig is
om proporsioneel ’n kleiner “vyfde kwart” te besit (Naudé,
Mentz, Venter, Nel, Botha, Stienie & Argo, 1980). In die geval
van die Charolais en Brahmaan kan dit tot ’n hoër
slagpersentasie lei en met melkrasse tot ’n laer
slagpersentasie.
Dit
is nodig om die ideale limiet vir die Afrikanerkarkasmassa te
identifiseer wanneer bemarkingsvereistes en winsgewendheid in ag
geneem word. Op hierdie stadium blyk dit dat vetkode 3 en 4
vanuit ’n produksie- en bemarkingsoogpunt die optimale vetkodes
is. Volgens die data in Figuur 3 blyk dit dat die optimale
limiet van die karkasmassa vir Afrikaners ongeveer 170 kg is.
Dit is duidelik dat die limiet van die ideale karkasmassa van
veral die Simmentaler en Charolais verskil van die karkasmassa
van die Afrikaner. Hierdie later-volgroeide beesrasse het ’n
ideale karkasmassalimiet van ongeveer 230 kg.
Die
gemiddelde karkasmassa vir beesvleiskarkasse met vetkode 3 en 4
in die A-ouderdomsgrope is 215 kg. Die aanduiding is dat ’n
swaarder karkas vir hierdie vetkode verkies word en dat die
ideale kruisteelt tussen die Afrikanermoeder en die volgroeide
Europese teelbul is. Hierdie kombinasie sal nie slegs ’n groter
karkas produseer nie, maar sal ook meer doeltreffend wees en
binne ’n korter periode geproduseer word as in die geval van die
opreggeteelde Afrikaner (De Bruyn, 1991).
Die
variasie in % vleis tussen opreggeteelde rasse met ’n konstante
vetkode is ongeveer 2% met elke opeenvolgende vetkode wat die
later-volgroeide rasse aanbetref, aangesien hulle ’n hoër %
vleis in vergelyking met vroeg-volgroeide rasse (Afrikaner)
toon. Dit kan toegeskryf word aan die vroeë akkumulasie van
onderhuidse vet in die vroeg-volgroeide tipes.
Dit
is opmerklik dat die Afrikaner en die Brahmaan hoër persentasies
vleis in die duurder snitte het in vergelyking met ander
volgroeide tipes (Simmentaler en Charolais) (Figuur 5). Hierdie
twee rasse (Afrikaner en Brahmaan) is welbekend vir die feit dat
hulle neig om ’n karkas te produseer met ’n platter bou as dié
van Europese rasse. Weereens dui laasgenoemde feit aan dat bou
misleidend in die voorspelling van die % vleis in die karkas kan
wees.
Tabelle 5 en 6 verskaf ’n opsomming van die belangrikste
karkaseienskappe van opreg geteelde rasse en van die
verskillende fisiologiese groepe met vetkode 3 en 4. Die
inligting in Tabel 6 is veral insiggewend wanneer opgelet word
dat op dieselfde vlak van fisiologiese volwassenheid daar geen
verskil is met betrekking tot die % spier en prima-snitte tussen
die verskeie fisiologiese groepe nie. Vroeg-volgroeide rasse het
duidelik ’n laer persentasie totale vet as laat-volgroeide
rasse. Die vereiste reël vir vetkode 3 en 4 is 18 tot 20% totale
vet en dit blyk dat die Afrikaner aan hierdie vereiste voldoen.
Die rede vir die hoër % totale vet van laat-volgroeide tipes is
die groter % interspiervet wat by hierdie tipes aangetref word.
TABEL 5 – DIE VERGELYKING VAN OPREGGETEELDE RASSE MET 'N
KONSTANTE ONDERHUIDSE VET % (6,8% = VETKODE 3 EN 4)
|
Genotipe |
Karkas
massa
(kg) |
Slag
(%) |
Spier
(%) |
Been
(%) |
Totale vet
(%) |
Spier:
Been |
Prima
Snitte
(%) |
|
Afr |
174,6 |
56,65 |
66,01 |
14,75 |
19,61 |
4,51 |
43,77 |
|
Bon |
205,7 |
58,80 |
66,01 |
14,25 |
19,76 |
4,68 |
43,31 |
|
Bra |
177,7 |
59,49 |
66,01 |
14,83 |
19,30 |
4,50 |
44,00 |
|
Cha |
260,2 |
61,58 |
66,01 |
12,60 |
21,66 |
5,18 |
43,54 |
|
Her |
150,2 |
55,64 |
66,01 |
15,09 |
19,10 |
4,36 |
42,54 |
|
Sim |
230,4 |
58,63 |
66,01 |
13,31 |
21,57 |
4,85 |
43,20 |
TABEL 6 – VERGELYKING VAN DIE FISIOLOGIESE GROEPE MET 'N
KONSTANTE ONDERHUIDSE VET % (6,8% = vetkode 3 en
4) (De Bruyn, 1991)
|
Groep |
Karkas
massa
(kg) |
Slag
(%) |
Spier
(%) |
Been
(%) |
Totale vet (%) |
Spier:
Been
(%) |
Prima
Snitte
(%) |
|
Vroeg |
159,5 |
56,72 |
66,08 |
14,89 |
18,37 |
4,65 |
43,50 |
|
M-vroeg |
180,1 |
58,06 |
66,08 |
14,55 |
18,72 |
4,69 |
43,50 |
|
Med |
205,5 |
59,10 |
66,08 |
14,02 |
19,46 |
4,75 |
43,50 |
|
M-laat |
229,7 |
59,71 |
66,08 |
13,46 |
21,12 |
4,77 |
43,50 |
|
Laat |
258,9 |
61,42 |
66,08 |
12,72 |
21,57 |
4,89 |
43,50 |
VLEISKWALITEITSEIENSKAPPE VAN DIE AFRIKANER
Die
toenemende belangrikheid van kwaliteitvleis kan nie onderskat
word nie. Dit sal bepaal of die verbruiker die porsie vleis in
sy bord aanvaarbaar vind al dan nie. Die vleisprodusent sal in
die toekoms gedwing word om sy keuses oor produksiestelsels,
ras, en so meer, te heroorweeg om aan die vereistes van die
verbruikers te voldoen. Soos reeds gestel, verkies verbruikers
sonder twyfel dat die sagtheidsgraad van die vleis in die
klassifikasiestelsel aangedui word. Dit word daarom aanvaar dat
die sagtheidsgraad van vleis die belangrikste
vleiskwaliteitseienskap is.
Vleissagtheid word, soos in Tabel 7 aangedui, deur verskeie
oorwegings beïnvloed. Al die deelnemers aan die
vleisproduksieketting beïnvloed die sagtheidsgraad van vleis. In
hierdie bespreking val die klem egter op die invloed van ras en
die kooktemperatuur op die sagtheidsheidsgraad van vleis, ten
spyte van die feit dat die ouderdom van die dier die grootste
invloed op die sagtheidsgraad van vleis uitoefen. Daarom is daar
drie ouderdomsgroepe, naamlik A (0 tande) (sag); B (1-6 tande)
(minder sag) en C (6 tande) (minste sag).
TABEL 7 – FAKTORE WAT DIE SAGTHEIDSGRAAD VAN VLEIS BEïNVLOED
Biologiese faktore
1.
Ras
2.
Ouderdom
3.
Geslag
4.
Groeipatrone
Tegnologiese faktore
1.
Verkoeling
•
Inkrimping (voorkoming)
•
Veroudering
2.
Meganiese versagters
3.
Natuurlike versagters
4.
Kookproses
Volgens De Bruyn (1991) kom dit voor of die vleis van die
Afrikanerbees besonder sag is in vergelyking met die vleis van
ander rasse (Figuur 6). Die vleis van rastipes wat nie gou
volwassenheid bereik nie, neig om taaier te wees. Die rede vir
die positiewe vleissagtheidsgraad van die Afrikaner is te wyte
aan die makliker oplosbaarheid van die
verbindingsweefsel-kollageen in die vleis van hierdie ras. Dit
is dus duidelik dat ’n produksiestelsel altyd só bestuur moet
word dat die optimale karkaskwaliteite wat reeds binne die
massagrens van die ideale karkas geïdentifiseer en bereik is,
binne die onveranderde ouderdomsgroep (A ouderdomsgroep) bereik
moet word ten einde ’n karkas te produseer met die verlangde
vetkode volgens die toekomstige klassifikasiestelsel.
Die
uitwerking van hitte op vleissagtheid is ’n komplekse proses
aangesien
miofibrillated proteïene verhoog en saambindende weefsel
tydens oorverhitting versag (McCrae R Paul, 1974). Beide hierdie
veranderinge is afhanklik van die tyd en temperatuur van
verhitting. Tyd is meer belangrik vir die versagting van
kollageen en temperatuur vir die verharding/versterking van die
miofibrillar. Dit is daarom belangrik om taai vleis
(vleis met ’n groot hoeveelheid bindingsweefsel) vir ’n langer
tydperk teen ’n relatief lae temperatuur te kook terwyl die
teenoorgestelde waar is vir sagter vleis (vleis met minder
verbindingsweefsel).
Resultate in Figuur 7 dui duidelik die effek van ’n hoër
kooktemperatuur op die sagtheidsgraad van vleis aan. Hoe hoër
die kooktemperatuur, hoe taaier is die vleis. Die Afrikaner, in
vergelyking met ander rasse, lewer die sagste vleis. Dit toon
duidelik aan die verbruiker om te sorg dat vleis tydens die
kookproses nie taai word nie.
GEVOLGTREKKING
Die
vleisprodusent kan uit ’n verskeidenheid van vleisrasse kies om
beesvleis te produseer. Sodanige keuse kan katastrofies wees
indien die produsent nie produksiestelsels en die behoeftes van
die mark en verbruikers in ag neem nie. Die Afrikanerkoei met
haar besondere soogvermoëns, gehardheid in die veld en
uitstekende vleiskwaliteite lewer uiters voordelige kruisteling
met Europese rasse wat stadig groei en oor goeie produksie- en
karkaskwaliteite beskik.
Aan
die ander kant sal hierdie voordelige eienskappe waardeloos wees
indien die middelman nie sy rol speel met betrekking tot die
optimale benutting van die karkas met verwysing na
vleisversagting, bewaring, verkoeling en so meer nie. Die
verbruiker speel ’n onmisbare rol aan die einde van die
produksieketting. Indien die korrekte kookmetodes nie gevolg
word nie, gaan die voordele van sagte beesvleis verlore.
Die
implementering van hierdie klassifikasiestelsel sal verseker dat
die Afrikanerbees vreesloos sy regmatige plek inneem – ’n plek
waarin hy homself oor jare heen reeds bewys het.
|